Wat maak Watertrap se Varkvleis Anders?

Die Vry-wei vark wat ons verkoop en gebruik om ons heerlike Nguni-wors te maak, is regtig vry. Geen tronk in sig nie.
As iemand wil weet hoe dit moontlik is om met ‘skoon’ met varke te boer, moet hy gaan kers opsteek by Hendrik. Varke hoef nie in tralies en sement aangehou te word nie. Inteendeel.


Op Hendrik O’Neill se plaas naby Warmbad, word geboer volgens Allan Savoury se holistiese bestuur sisteem, ontwerp om grondvrugbaarheid en biodiversiteit te herstel, deur diere terug te plaas in hul oorspronklike verhouding tot die veld… in nabootsing van die natuur.

In sterk teenstelling met konvensionele varkboerderye, waar varke sonder natuurlike voeding vasgekeer staan in klein kampies op sementvloere, wei Hendrik se varke vry in die veld. Daar doen hulle wat varke moet doen – vreet regte, egte plante, woel die grond om vir wortels, vroetel in die modder en werk hulle mis in die grond in. En die wonderlikste is, in die proses word die grond weer lewendig. Dit word gevoed, en belug, en slapende sade ontkiem – voorheen verarmde grond verander in ‘n lushof.
Geen medisyne word op Hendrik se plaas gebruik nie. Hoenders beheer die parasiete, en die varkies se modderbaddens doen die res. Jy het nie moeilikheid met bosluise as die natuur in balans is nie, aldus Hendrik.
Byvoeding: Diatomiese aarde en koolstof is beskikbaar vir die diere om te vreet as hulle behoefte het, asook eier vir ekstra proteïne. Geen graan word gegee nie.
Geen aaklige sement en yster reëling-hokkies vir sog en kleintjies, binne-in ‘n tronk gebou waar die son nooit skyn nie. Die varkies sien die eerste lig in “moeder-kampies” in die veld – ja, regtig.
Gelukkige varke, gesonde vleis.
Die wat al van hierdie varkvleis geëet het, sal weet - die vleis is nie ‘wit’ nie. Dit is rooi. En dit ruik soos vark moet ruik. Die varkvleis wat meeste mense mee bekend is, het ‘n kenmerkende reuk – die suur reuk van "stress", en onnatuurlike dieet (soya, mielies en groente olies). Maar hierdie vark ruik anders. En proe anders:
In tekstuur baie lig, amper soos hoendervleis, maar regtig heerlik en verbasend sag.
Net wat mens kan verwag van egte Vry-wei Vark.